Windpomp Padstal op die N1
Windpomp Padstal is die mees noordelike Netwerk Vennoot in die Zero Carbon Charge familie en het glo van die lekkerste chilli bites biltong : )

WINDPOMP PADSTAL
2km noord van die Baobab tolhek, en 35 km suid van Musina op die N1
EPOS: [email protected]
FOON: 084 806 8057
“Ons is ‘n great span” lag Sarita Erwee as ek vra oor man-Hennie se betrokkenheid by Windpomp Padstal “Ek droom hierdie groot drome en hy maak seker al die oorhoofse besluite word geneem sodat die drome kan waar word”.
Windpomp Padstal is die noordelikste Netwerk Vennoot in die Zero Carbon Charge familie en is geleë sowat 2km noord van die Baobab tolhek, en 35 km suid van Musina op die N1. Die padstal bestaan sedert 2018 maar in Oktober 2022 het Sarita dit gerenoveer en dit is nou drie maal so groot as wat dit vroeër was.

Die padstal is op die plaas Maseri-pan en sedert die vorige eeu was daar ‘n winkel waar transportryers gestop het om te rus, en water en kosvoorrade aan te vul. Later jare is daar ‘n windpomp opgerig en vandaar die naam. Met die koms van die N1 is die plaas in twee gesny. “Die oostelike deel wat strek na Tshipise se kant is ons jagplaas” se Sarita “ en die deel aan die weste kant boer ons onder andere met tamaties, spanspek, en pampoen”. Die vars produkte is almal te koop in die padstal, maar dis nie al nie.
“Ons roem ons op ons wildsbiltong, droë wors en chilli-bites” spog Sarita “Ons produkte smaak lekkerder want dit word natuurlik in dié droë hitte gereed.
Ons kompetisie gebruik waaiers en verwarmers om hulle biltong as’t ware gaar te ‘kook’”. Windpomp verskaf ook vars wildsvleis en wildswors – alles uit hul eie geregistreede slaghuis en dus kan hulle die hoogste kwaliteit waarborg.

Bo en behalwe die tipiese padstal piekels en konfyte (soet groenvye!) bied Sarita handgemaakte leer produkte en Afrika-kuns en Mopani-hout lampe “Die lampskerms is sandblasted – ek ken nie die Afrikaanse – woord nie – en is baie gesog”.
Behalwe vir plaaslike kliënte kry Sarita-hulle redelike aftrek by vragmotorbestuurders. “Hierdie is ‘n bosveldse jag Mekka. Daar is oor die 300 lodges vanaf ons na Waterpoort en Alldays” verduidelik Sarita “baie van die buitelandse besoekers land op die vliegveld op Maseri-pan en baie van ons items is op hulle gemik”,
‘n Ander teikenmark is die sogenaamde Swaeltjies, gewoonlik ouer mense wat tydens die Hoëveld winters in die warmte agter die Soutpansberg kom skuil, soms tot drie maande lank. “Die swaeltjies skakel dan in by ons gemeenskap” sê Sarita “hulle word deel van die kerk gemeente en uiteraard moet hulle ook inkopies doen”
Dit is Sarita se doel om Windpomp Padstal ‘n oase te maak wat mense nie kan weerstaan nie, derhalwe het sy haar ‘dieretuin’ uitgebrei “Ons het nou mini-bergbokkies, ponies, kalkoene, hoenders, hasies, vissies en twee groot voëlhokke. Ek beplan om ‘n toring te bou vir ons boerbokke om op te klim”.
Maseri Cabins is Windpomp Padstal se selfsorg-akkommodasie aanbieding en bestaan uit tien x 2-bed huisies met badkamer, kombuisie en braai geriewe. In die week is dit hoofsaaklik kontrakteurs wat inboek en naweek is die meesal toeriste op pad na Zimbabwe of die Kruger Wildtuin wat daar oorslaap. “Die aanvraag het gegroei en ons beplan om teen Desember 5 gesinseenhede met 2 slaapkamers elk op te rig”
EV laaistasie en die e-rewolusie
Sarita is baie opgewonde oor die samewerking met Zero Carbon Charge “Joubert het eintlik al die werk gedoen” lag sy “ons het net die ligging verskaf”. Sy meen die laai stasie gaan nuuskieriges lok en dan sal hulle besef die e-rewolusie is aan die gebeur. “Mense sal sien ons in die gramadoelas is nie so onderontwikkeld as wat hulle dink nie”.
Sy verstaan dat dit ‘n stadige ewolusionêre proses is, en dat die ZCC ontwikkeling aansluit by die beweging van sekere vooraanstaande boere in die omgewing wat totaal na sonkrag omgeswaai het en glad nie meer van Eskom afhanklik is nie. “Dis vir my lekker om te weet ons is ook baanbrekers” sê sy “dis wonderlik om te weet dat ons ‘n saadjie plant van iets wat nog groot gaan word”
Sarita en Hennie is nie net omgewings bewus nie, maar is ook by sosiale en gemeenskap sake betrokke. “Ons skenk vleis aan ‘n weeshuis in die omgewing, en ons is betrokke by maatskaplike en vaardigheidsontwikkelings projekte”.
Elektriese quadbike
Sarita het nog nie veel gedink oor watter EV sy sal kies nie “Ek sal tevrede wees met ‘n elektriese quadbike” lag sy “want dis waar jy my meesal sal kry, jaag tussen die huis en die padstal!”
Dis nou die Windpomp Padstal, in die verre warm noorde van Limpopo.


