Daggaboer Padstal is in die Oos-Kaap op die N10, 45km suid van Cradock en 37km noord van Cookhouse.

DAGGABOER PADSTAL


Op die N10, tussen Cradock en Cookhouse

EPOS: [email protected]

FOON: 087 807 8165


Als Behalwe Dagga!

Nominatiewe determinisme is die verskynsel dat mense neig na beroepe wat pas by hulle name, bv. Jan de Kok wat ‘n  restaurant oopmaak of Piet Spies wat ‘n spiesgooier word. Andrew Jordaan het op die familieplaas Daggaboer groot geword, maar hy en sy twee broers se Spekboombergboerdery boer met als behalwe dagga: melk, vleis, wol, mielies en lusern. En dan het hy boonop ‘n padstal ook.

daggaboer padstal N10

Daggaboer Padstal is in die Oos-Kaap op die N10 45km suid van Cradock en 37km noord van Cookhouse. “Dis ‘n tipiese Karoo padstal,” sê Andrew “Alles kom uit die  omgewing; roosterkoek, klere, piekels, en ook die skaapwol pantoffels wat ons self maak”.

Die padstal is vir etlike jare deur ‘n derde party bedryf tot Andrew en sy vrou Rykie in Februarie 2020 direk betrokke geraak het. “Ons het die plek bietjie revamp en declutter,” lag hy “dit was tyd vir ‘n verandering”.

Een van die veranderinge is goeie koffie. “Mense op die langpad soek goeie koffie as hulle stop vir ‘n ruskans” sê Andrew “Ons rooster bone op die perseel en ons het ‘n goeie koffiemasjien geïnstalleer”.

Wat Daggaboer Padstal effens anders maak is dat dit ‘n 50% vennootskap is tussen Andrew en Gerber & Co, ‘n maatskappy wat ook drie ander padstalle bedryf. “Saam wil ons Wol verder vat” sê Andrew “Ons eie truie en klere op ‘n kleinhandel vlak bemark. En dan wil ons ook die wolwassery deel maak van die padstal aktiwiteite”

Andrew sê daar is al hoe meer boere in die wat die belangrikheid besef van volhoubare boerderypraktyke. “Boere gebruik minder kunsmis en minder onkruiddoders. Op ‘n groter  skaal moet ons almal minder steenkool begin gebruik.” Derhalwe is daar reeds 5 sonpaneel installasies op die plaas.

“Ons moet almal ons mindset moet verander en aan die toekoms dink. En daarom het dit vir my onmiddellik sin gemaak toe Joubert hier opdaag en voorstel ons rig ‘n sonkrag laaistasie op by die padstal”.

Daggaboer bied nie akkommodasie nie maar met die koms van die herlaaistasie gaan dinge verander. “Ons het tans slegs ‘n cottage vir jagters, maar ons beplan ‘n plaas verblyf opsie, wat redelik primitief sal wees, met donkies vir warm water en so meer,” beloof Andrew “en dan wil ons die ou plaashuis restoureer en hom as ‘n luukse Country Hotel bemark”.

Volgens Andrew is daar twee verklarings waar die plaas se ongewone naam vandaan kom. “Blykbaar het die oorspronklike inboorlinge van die gebied – destyds bekend as Hottentotte – die transport ryers wat oor die nek gekom het gegroet met die woorde Dag, ou boer!” Met die jare het dit vereenvoudig na Daggaboer. “Dan is daar mense wat sê die Xhosa boere in die omgewing het dagga verbou as perdevoer want dit werk as ‘n stimulant en jy kry beter werkverrigting uit die perd”

Andrew behoort te weet van voer metodes, hy’s al aangewys as Oos-Kaapse Boer van die Jaar, asook Skaapboer van die Jaar. Op Spekboomberg Boerdery is hulle oop vir innoverende maniere om uitnemend te boer.

Dus, as jy op die N10 reis in die rigting van Bedford, Cookhouse of Cradock, en jy voel moeg en dat jy ‘n stimulant nodig het, stop by Daggaboer Padstal vir vars geroosterde koffie. En as jy vir lus is vir iets rêrig stimulerend vra vir Andrew uit oor die verbysterende genetiese tegnologieë hulle gebruik om die kwaliteit van wol en lamsvleis voortdurend te verbeter. Jy sal dit nie glo nie!

Daggaboer padstal N10