Wagon Wheel Pies Padstal op die N6
“Maklik twee maal so groot en baie lekkerder as ‘n standaard pie wat jy by ‘n supermark of garage koop.”
WAGON WHEEL PIES PADSTAL
Op die N6 noord van Oos London
PHONE: 083 718 0191
Pastei Hemel!
“Ek’s nie seker of Joubert regtig opsoek was na my nie, en of hy net opsoek was na ‘n lekker pie nie, want ek het gehoor hy was al voorheen hier …”
Jonathan en Margie Scheepers volg ‘n opwaartse trajek. Wagon Wheel Padstal is hulle derde padstal. “Ons het voorheen in Alexandrië en Cathcart padstalle gehad, maar hierdie is ons grootste sover.”

Wagon Wheel Padstal is op die N6 sowat 19km noord van Oos-Londen en sowat 60km voor Stutterheim en is op ‘n 18 hektaar kleinhoewe geleë. “Ons het in 2017 hier begin,” sê Jonathan “hier was niks. Ons het van scratch af begin”

Die naam het ‘n storie: terwyl hulle die padstal in Alexandrië bedryf het, het Jonathan op ‘n ou ossewa wiel afgekom en voorgeneem om dit eendag as fokuspunt van ‘n groter padstal te gebruik. Dit was toe ook so in Cathcart, en toe hulle dié plek verkoop, toe kom die naam en wawiel saam Oos-Londen se kant toe.
Jonathan glo daarin om dinge eenvoudig te hou. “My spyskaart bevat net een item: pie, chips and gravy.” Dis egter die verskeidenheid pasteie wat Jonathan bied wat die aantrekkingskrag is: wildsvleis, bees kerrie, lam en kruisement, bief en spek, hoender en spek, hamburger, spinasie en feta, om net ‘n paar te noem. “En dis ‘n groot pie, hoor, hy’s gewigtig,” sê Jonathan “maklik twee maal so groot en baie lekkerder as ‘n standaard pie wat jy by ‘n supermark of garage koop.”
In die week is dit meesal sake-reisigers en verkoopsmanne wat stop vir ete, en oor die naweke is dit toeriste en gesinne wat op ‘n dagreis gaan.
Pasteie met unieke smake
Die pasteie word in ‘n bakkery op die perseel gemaak met spesery kombinasies wat Jonathan self oor die jare vervolmaak het. Dit is die unieke smake wat sy pasteie so gesog maak en mense laat terugkeer vir nog. Weekliks vra mense vir Jonathan of hulle sy pasteie in ander stede en provinsies kan verkoop of namens hom bak, maar hy val nie vir die grap nie. “Dis vir my belangrik dat my pies se kwaliteit hoog bly, so jy kan dit net hier kry,” sê hy ferm “al wat ek kan voorstel is dat jy ‘n paar dosyn vooruit bestel, dan vries ons dit vir jou, en jy neem dit saam huis toe.”
Jonathan en Margie is vyftig-vyftig in die Wagon Wheel vennootskap, maar steun grootliks op Margaret vir die dag-tot-dag bedrywighede, ontvangs en bediening van kliënte. Wanneer Jonathan en Margie ‘n blaaskans nodig het kan hulle staatmaak op hulle dogter Bianca om die fort te hou. “Sy sal in die oggend ‘n ogie gooi, en dan in die middag na sy gewerk het ‘n draai maak en met die cash-up help,” sê Jonathan.
Benewens die pasteie bied Wagon Wheel ook ‘n groot verskeidenheid ingemaakte produkte. “Jêms, piekels, chutneys, noem maar op,” spog Jonathan “ en 80% daarvan maak ek self.”
Jonathan het op ‘n pynappel plaas grootgeword en is baie trots op die pynappelsap wat hy aanbied. “En natuurlik stook ons ook ‘n bietjie mampoer …”
Planne vir 2023
Jonathan en Margie is baie tevrede met hoe die besigheid gaan en beplan om 2023 uit te brei en akkommodasie beskikbaar te maak. “Basies oornag fasiliteite. Ons is op die N6. Mense kan aftrek en oornag en die volgende oggend onmiddellik weer op pad wees.”
Om deel te word van Zero Carbon Charge was toevallig, maar tog ‘n voordelige stap. “Ek’s nie seker of Joubert rêrig ‘n laaistasie wou oprig nie, en of hy net opsoek was na ‘n lekker pie nie, want ek het gehoor hy was al voorheen hier. Ouens kom maar terug na waar dit lekker is …” skerts Jonathan voor hy meer ernstig raak. “Dis die enigste pad wat die wêreld moet volg om die klimaatsverandering te beveg.”
Alhoewel hy bly is om deel te wees van hierdie tegnologiese ontwikkelinge, is hy konserwatief optimisties. “Ek dink hier op die platteland gaan EVs nie dadelik groot indruk maak nie,” sê hy versigtig “en daar gaan hiccups wees, maar dit sal uitgestryk word, en dan sal mense sien dit kan werk.” Hy self het na ‘n lang wag sy nuwe Toyota bakkie gekry.
“My volgende bakkie sal seker ‘n EV wees, as daar so iets is.”
Daar is gewis reeds EV bakkies en as hulle mettertyd in SA beskikbaar is sal Jonathan presies weet waar om hom te laai: Wagon Wheel Pies, op die N6, net buite Oos Londen.


