‘The Barn’ met sy unieke Amerikaanse argitektuur is ‘n landmerk in die omgewing en is digby die N1, min of meer halfpad tussen Kroonstad en Ventersburg in die Vrystaat.

‘The Barn’


Op die N1 snelweg tussen Kroonstad en Ventersburg.

EPOS: [email protected]

FOON: 082 5311650


Die Boer en die Barn.

Johan en Aljo Schutte het met goeie rede hulle gastehuis The Barn gedoop, en nie Die Skuur nie. Dis nie omdat hulle grênd wil wees nie – dis omdat daar ‘n rêrige-êrige Amerikaanse “Barn” op die plaas is wat hulle in hul gastehuis omskep het. “Die vorige eienaar het die Barn gebou, en in 2009 het ons besluit om dit as ‘n gastehuis te ontwikkel,” sê Johan “boerdery is nie altyd maklik nie, en dit is ‘n ekstra inkomste”.

The Barn guest house

The Barn met sy unieke Amerikaanse argitektuur is ‘n landmerk in die omgewing en is digby die N1, min of meer halfpad tussen Kroonstad en Ventersburg in die Vrystaat. Johan boer met beeste, skape en sojabone en Aljo bestuur die gastehuis en bied 8 stylvolle 4-ster kamers aan reisigers. “In die stadium is ons okkupasie so 80%” sê Johan “Mense weet dis veiliger hier as in die dorp. Ons het elektriese heinings, kameras en die hekke word elektronies beheer”.

Aljo het gereelde gaste wat vir werk pendel tussen die kus en die Witwatersrand. “Hier is ouens wat motorfietse karwei wat twee keer ‘n week oorslaap” sê Johan “en dan is ons ‘n lekker halfweg-stasie vir Kaapse mense wat op pad na of van die Kruger Wildtuin reis”.

Oornaggers kan in die goedversorgde tuin of by die pragtige plaasdam sit en die ryk voëllewe geniet. “Ons het ook ‘n staproete vir die mense wat meer energiek is” sê Johan. Alhoewel The Barn naby die N1 is, is dit stil en rustig op die plaas. “Hierdie is ‘n tipiese werkende plaaswerf”.

The Barn op die N1

In die gastehuis kan gaste die selfsorg opsie kies, of hulle kan vooruit braaipakke bestel , of Aljo kan egte plaaskos voorsit vir diegene wat nie lus vir kook het nie.

“Alhoewel ek niks van Elektriese Voertuie geweet het nie, was ek nie verbaas toe Joubert Roux eendag stop en vra of ons wil deel wees van die herlaai netwerk nie” sê Johan “ons is ideaal geleë, teenaan die grootste deurpad, en ons het ‘n lieflike U-draai op en afrit, wat veilig en vinnig is”.

Johan probeer al jare om ‘n vulstasie gebou te kry, maar die rompslomp het hom mismoedig gemaak. “Politiek,” sug hy. Nou is hy baie positief. “Ons beplan om ‘n 2 hektaar-grootte sonplaas op te rig. Hopelik begin ons teen September 2022”.

Saam met die vestiging van die herlaaistasie gaan Johan en Aljo ook ‘n padstal bou om dit die moeite werd te maak vir EV eienaars om daar te stop. Van hulle vriende en familie is baie opgewonde oor die verwikkelinge, maar daar is ander wat glo dit gaan nog baie lank neem. “Vier of vyf jaar is nie so lank as wat dit klink nie. Dink maar hoe gou-gou het slimfone deel van ons lewe geword” sê Johan met ‘n lag in sy stem

“ek is bly en bevoorreg om deel te wees van hierdie groot stap die toekoms in”.

Met so ‘n houding mag ‘n mens maar grênd wees, of hoe?

The Barb gastehuis