Prins Albert Weg op die N1, R407 afdraai

Die Onmeetbare Landskap
Wat noop ‘n man om die blou-blou berge van die Boland te verruil vir die onmeetbare landskap van die Karoo? ‘n Hunkering na die platteland en die vryheid om jou eie ding te doen.
“My ouers het in die Verre Noord geboer,” onthou Piet Gouws. eienaar van Assendelft Lodge and Bush Camp. “Daar het ek geleer om dinge op ‘n praktiese wyse aan te pak. Ek hou daarvan om dinge te maak, om ‘n plan te beraam en self probleme op te los.”
In Mei 2021 het Piet Gouws en sy vrou Ruth hulle binneversieringbesigheid in die Paarl na baie jare verruil vir ‘n eko-plaas in Prins Albert Weg. Waar hulle eens met sonskerms, matte, gordyne, teëls, seil en stoffering bedrywig was, is hulle nou besig met die rentmeesterskap van Assendelft.
Om by Assendelft te kom moet EV bestuurders op die N1 net suid van Prins Albert Weg links draai en die R407 vir 1km volg. Om Prins Albert Weg te bereik moet jy 42km suid reis vanaf Leeu Gamka, of 85km noord vanaf Laingsburg.
“Assendelft is ‘n gewone Karoo-boskamp” sê Piet beskeie. In Karoo terme is dit nie ‘n groot plaas nie, sowat 1000 hektaar. “Mense kom jag, maar ons het ook ‘n trou-venue,” gaan Piet voort “en ons voorsien aan eko-toeriste, mense wat na ‘n naweek wegbreek smag, of veldfietse of bergfiets te ry, of sommer net langs die wildspaadjies te stap.”
Op die plaas het Piet hoofsaaklik springbokke, en deurtrek-koedoes. In 2023 sal sebras, blouwildebeeste en ander groter boksoorte bygevoeg word. Piet het ook ‘n kudde Dorpers en lê-henne. Dan verbou hy skorsies, butternut, lemoene en spanspek wat hy aan die padstal op Prins Albert Weg lewer. “Ons doen goed met die free-range eiers,” sê hy “In die toekoms sal ons nog produkte byvoeg.”
Piet en Ruth bied aan gaste chalets en kampeer fasiliteite. In die boskamp is daar 5 chalets elk met 2 beddens. By die Lodge is daar 2 kamers ook met 2 beddens elk. “In 2023 sal ons die kothuis ook beskikbaar maak” sê Piet, “ons gaan dit omskep in ‘n familie-eenheid.”
Piet en Ruth het ‘n paar gereelde gaste: “Ons het ‘n paar paleontoloë wat gereeld hier bly,” sê Piet met trots. “Hulle is besig met ‘n navorsingsprojek en hulle slaap by ons oor as hulle kom fossiele soek.”
Die Karoo is bekend vir lang droë, sonnige periodes en Piet-hulle het reeds by die Lodge sonkrag geïnstalleer om ‘n dompelpomp, beligting by die lapa se kombuis en braai-area , asook beligting by die chalets aan te dryf.
Ideale ligging vir ‘n EV laaistasie
“Toe Joubert by die spoorwegstasie navraag doen of iemand in die omgewing wil betrokke raak by Zero Carbon Charge deur ‘n Laaistasie op te rig het ek my hand opgesteek” sê Piet.
Die ligging is ideaal vir EV reisigers vanuit die noorde – dis 110km van Beaufort-Wes, en vanuit die Kaap – dis 200km van Worcester: perfek vir stop, herlaai en bene rek.
“Die plaas word verdeel deur die N1: oos van die pad is die boskamp, maar die deel aan die westekant is onbenut, of liewer was onbenut, nou het ons ‘n doel daarmee”, sê Piet.
Die ligging is op die hoek van die R407 en die dienspad langs die spoorlyn en bied vinnige, maklike en veilige toegang vanaf die N1. “Dis ook ‘n baie mooi ligging,” voeg Piet by “daar is ‘n hoogtetjie waar ons die panele gaan plaas. En daar is ‘n pragtige uitsig waar ons die kleinhandel besigheid saam met ZCC gaan oprig.”
Die gemiddelde stop om te laai by ‘n Fast Charger is ongeveer 40 minute. “Dis oorgenoeg tyd om te ontspan, die Swartberge in die verte te waardeer en om wild te sien water suip by die Vlakkraalrivier wat deur die plaas loop”
Piet dink ook aan die toekoms: “Hier loop ‘n Eskom lyn reg by ons verby; as dit daarop neerkom sal ons oortollige krag kan toevoeg tot die nasionale netwerk.”
As dit kom by EVs het Piet en Ruth ‘n spesifieke voorkeur.
“Ons is BMW lojaal. Ons is ou vriende met die eienaars van Paarlweg BMW. Wanneer die tyd reg is sal ons met hulle praat, en een aanskaf. Dis die toekoms en ons wil daarin deel.”
Wyse woorde van ‘n lid van die Zero Carbon Charge Tribe. Ons gaan almal saam die toekoms in, ons het nog mense soos Piet en Ruth van Prins Albert Weg nodig om te verseker dat dit ‘n goeie toekoms sal wees.