Jagtpoort Padstal op die N9
‘n Welkome vooruitsig vir reisigers tussen Middelburg en Graaf- Reinet op die N9.

Niel en Alet Schoombee was reeds ‘n geruime tyd aan die boer op die familieplaas in Middelburg in die Oos-Kaap toe sy skoonpa vra of hy en Alet nie sy boerdery wil oorneem naby Jagtpoort in die Lootsberg pas nie. Om die aanbod bietjie meer aanloklik te maak bied die oubaas aan om die ou koeistal op die N9 te omskep in ‘n padstal. Die koeie kon veld toe gaan, en Alet – Niel se vrou kon uit die onderwys bedank en die padstal bedryf. Die transaksie is beklink.
Dit was 25 jaar gelede (1997). Vandag is die Jagtpoort Padstal ‘n welkome vooruitsig vir reisigers tussen Middelburg en Graaf- Reinet. Toeriste word in die versoeking gestel met produkte uit die boonste rakke: biltong, droëwors, beskuit, tuisgemaakte konfyte asook plaaslik vervaardigde aandenkings.

“Ons nooi mense uit om hulself tuis te maak op ons stoep en die wonderlike uitsig oor die berg te geniet,” sê Niel “of om sommer hulle bene te rek deur ‘n rustige wandeling op ons plaas te neem”.
Deesdae laat Alet die daaglikse padstal take oor aan Chrissie Afrika, sodat sy en Niel saam die verskeie aspekte van die boerdery kan bestuur.
“Ons het Dohne Merino wolskape, en Bonsmara-Sussex vleisbeeste”. Dis nie toevallig dat die plaas Jagtpoort heet nie. “Ons bied ook jag-ekspedisies in die winter,” sê Niel wat gekwalifiseer is as Professionele Jagter. Niel en Alet se kliënte kom hoofsaaklik van die VSA af. Maar daar is ook ‘n groot komponent uit die Suid-Afrikaanse korporatiewe wêreld.
Die jagters word in ‘n jagkamp, oftewel lodge, in die Lootsbergpas gehuisves en kan twaalf spesies plains game jag. Niel wou nie dat onbetroubare kragtoevoer sy gaste se premium ervaring bederf nie, en het die besluit om die lodge heeltemal onafhanklik van die krag netwerk te maak.
Ultra-snellaaistasie vir elektriese voertuie by Jagtpoort padstal
“Toe Joubert voorstel dat ons ‘n vennootskap stig om ‘n EV herlaaistasie by die padstal te vestig, was ek reg”.
Niel glo Suid-Afrikaners sal hulle denkpatrone moet verander.
“In Europa is EVs algemeen. Ons sal eenvoudig móét opvang. Daaraan twyfel ek nie. Wanneer mense eers sien daar’s herlaaistasies elke 150km, sal hulle ontspan, en dan sal die oorgang na EVs vinniger gaan. Ons kan nie wag nie om die eerste sooi om te spit en die Jagtpoort herlaaistasie te begin bou.”
Alet is reeds besig met haar beplanning om die aanbieding aan EV bestuurders uit te brei: ligte etes, koffie en tee is bo aan haar lys.
Nog ‘n ding waarna Niel uitsien is dat die eerste elektriese bakkie op die mark kom. “Ek meen.” Lag hy, “ek sal mos soos ‘n aap lyk as ek nie my eie herlaaistasie gebruik nie.
