Karoo Padstal op die N1
Sowat 20km van Richmond en 40 km van Hanover. ‘n Unieke ervaring!
Karoo Padstal & Vrede en Rus Gastehuis
Op die N1 snelweg naby Richmond
EPOS: [email protected]
FOON: +27 81 219 2860
Vrede en Rus Gastehuis op die plaas Kantfontein
Die plaas Kantfontein is bleddie ver. Dis 800km van Pretoria en 670 van Kaapstad. Maar dis naby as jy Victor en Magda Kock is, want dis hierso waar dié vierde geslag Merino-boere hul tuiste het. Behalwe die boerdery spog hulle met die Vrede en Rus Gastehuis, waar moeë reisigers die spoed en intimiderende vragmotors op die N1 kan ontsnap. Rus en Vrede is wat jy kry, Karoo rus en vrede. “Ons het nie TV’s in die kamers nie,” sê Vic, “mense moet maar stap in die veld, die natuur geniet en na die sterre kyk”. Vorige gaste is gaande oor die plek,; die netheid, die troeteldier vriendelikheid, en die moeite wat Magda doen om hulle tuis te laat voel in die rooi gebou wat eens Kantfontein se opstal was. Een reisiger beskryf dit as ‘n fantastiese juweel in die hart van Karoo.
Tans is daar 4 kamers; 2 met ‘n dubbelbed elk, en 2 met twee driekwart beddens elk. Vic is besig om twee familie-eenhede aan te bou elk met een dubbel, en twee driekwart beddens. Dit sal die kapasiteit van 8 na 16 verdubbel.
“Ons gaste is meesal reisigers wat ‘n aand of dalk twee sal oorslaap,” sê Vic “dis baie selde dat iemand vir ‘n week inboek”.
Karoo Padstal
Reg langsaan Vrede en Rus is Karoo Padstal wat deur Nicol en Klaradyn Grobler bedryf word. Die padstal is sowat 20km van Richmond en 40 km van Hanover. Die Groblers probeer om aan reisigers ‘n uniek ervaring te gee deur items aan te bied wat nie by enige ander plek te koop is nie. Wyn van Upington, witblits van Oudtshoorn, egte boerseep van Ladybrand, handgemaakte voëlhuisies asook plaaslike konfyte en ingelegde eetgoed van die kontrei. Nicol is ‘n afgetrede argitek “Maar ek het gou-gou ontdek dat die padstal nie ‘n aftree-joppie is nie” lag hy.
Die Groblers het in 2018 Kantfontein se ou skeerhok by Vic en Magda gehuur en dit herontwerp as ‘n padstal.
Goeie koffie
“Klaradyn en my uitgangspunt was om ‘n padstal te skep wat skoon toilette en goeie koffie bedien” sê hy “Daarom het ons ‘n vennootskap gesmee met Deluxe Coffee Works in Kaapstad.” Benewens die twee opgeleide baristas is daar 5 ander werknemers wat elke dag van Richmond kom om die padstal te beman.
Honger en dors reisigers durf nie verby Karoo Padstal ry nie. Bo en behalwe die goeie koffie bied hulle tuisgemaakte lamsvleis-pasteie en ‘n bobaas lam kerrie. “Ons het aanvanklik gedink ons sal meesal wegneemetes verskaf maar die ons vind meeste mense verkies om hier te eet” sê Nicol.
Karoo Padstal bied ook quiches en pizzas op Sondae, en verskaf epiese ontbyte aan Magda se Vrede en Rus gaste. “Ons is kinder- en troeteldiervriendelik” sê Nicol “en ons beplan om binnekort ‘n speelplek op te rig vir klein reisigers”
Karoo Padstal en Vrede en Rus is slegs 400m van die N1 af en Vic was nie verbaas toe Joubert Roux hom nader oor die oprigting van ‘n EV laaistasie. “Ek het in die verlede gedink aan ‘n petrolstasie, maar dis duur, daar is baie permitte om te kry, en dit bring nuwe probleme, soos bedelaars en ander ongewenste elemente” sê Vic met ‘n sug “Tans het ons geen probleme, dis veilig, jy hoef nie jou kar te sluit as jy by die padstal stop nie”.
Vic is juis besig om sonkrag te installeer by die padstal en gastehuis, dus is die beplande oprigting van ‘n 2 hektaar sonplaas nie vir hom iets nuut nie. “Dit sal briljant wees wanneer die herlaaistasie eers aan die gang is” glimlag hy “dit gaan net nog meer mense na die gastehuis en padstal trek”.
Kantfontein, onthou die naam volgende keer as engtevrees of padwoede jou in die middel van die Karoo pak, want daar sal jy vir ‘n wyle Vrede en Rus kan geniet.