Ons is op skedule. Nuusbrief JUL 2022

Sjoe, die jaar vlieg verby. In die EV-wêreld beweeg dinge teen ‘n spoed. Dit is voorwaar aan die gebeur! Wêreld wyd en plaaslik.

Plaaslik verwelkom ons President Ramaphosa se aankondiging dat die regering dit makliker gaan maak vir onafhanklike kragverskaffers, en dat opleiding van elektriese ingenieurs versnel gaan word om te voorsien aan die behoefte wat in die EV bedryf gaan ontstaan.

Oorsee gebeur dinge ook vinnig. Die Verenigde Koninkryk (Europa se 3de grootste motormark) het ‘n wet wat bepaal dat geen nuwe binnebrand motors na 2030 verkoop mag word nie. Dit gaan ‘n massiewe impak hê op binnebrand enjin ontwikkeling, wat gewoonlik 8 jaar neem. Dit is dus, van vanjaar af, sinneloos om enige nuwe motor vir die VK mark te ontwikkel. Tans word 2 miljoen nuwe motors jaarliks in die VK verkoop. Van 2030 sal dit 2 miljoen nuwe EVs wees. Gewaarborg. In die res van Europa maak EVs tans 25% van nuwe voertuig verkope uit.

In Korea het Hyundai onderneem om binnebrand enjins totaal uit te faseer. En in China, het BYD 97 000 EVs in Desember verkoop. Teen Mei vanjaar is dit op na ‘n rekord 114000 eenhede.

Indien Kalifornië sou afstig sou dit die wêreld se 5de grootste ekonomie wees. Tog, met al daardie rykdom (en olie) het hulle ook besluit om verkope van nuwe binnebrand enjins te verban vanaf 2035. Kalifornië is reeds die voorste verkoper van EVs en het onlangs die 1 miljoen kerf verbygesteek. Boonop het hul goewerneur Gavin Newsom ‘n $10 miljard pakket geloods om toegang tot en infrastruktuur vir EVS te verbeter.

Dit bring ons terug by Zero Carbon Charge en ons doel om ‘n infrastruktuur van 120 zero-koolstof hernubare energie herlaai-stasies oor suidelike Afrika te bou.

Suid-Afrikaanse EV verkope is tans ver agter die ontwikkelde lande, maar volgens ‘n Bloomberg artikel word die keerpunt bereik wanneer EV verkope 5% van nuwe voertuig verkope uitmaak. Ons projekteer dat dit teen 2027 sal gebeur wanneer bekostigbare EVs op die SA motormark verskyn. Ons onderneem om gereed te wees om aan die EVs skoon hernubare energie op al die nasionale roetes te verskaf, elke 150km.

DIE KAART DUI AAN WAAR ONS REEDS IN PROSES IS MET OMGEWINGSTUDIES SOOS OP JUL 2022.
Nuwe aansoeke word deurlopend ingedien.

Zero Carbon Charge national EV charging network

Eerste laaistasie by Dassiesfontein

Ons is nog op skedule om met konstruksie van ons eerste stasie op Dassiesfontein naby Caledon te begin. Terselfdertyd het ons omgewingstudies en grondgebruik aansoeke in proses in al 9 provinsies.

Hernubare energie laaistasie by Dassiesfontein. Argiteksplanne

Soos ons almal weet neem munisipale en provinsiale sake tyd. Dit neem tyd, want hulle moet die belange van die gemeenskappe waarbinne nuwe bedrywe opgerig gaan word, beskerm. Kortliks werk die aansoek proses soos volg. ‘n Aanvanklike omgewingstudie word deur EnviroAfrica gemaak om lewensvatbaarheid te bepaal, waarna ‘n omgewings toepaslikheid kontrolelys ingedien word, dit neem ongeveer een maand; argitek Deon Wessels teken en dien ‘n basiese bou- en perseel plan in, dit neem ook ongeveer ‘n maand; laastens, word die dorpsbeplanning aansoeke by die toepaslike munisipaliteit deur CK Rumboll en vennote ingedien, dit kan tot 6 maande neem, indien alles vlot verloop en daar geen besware gemaak word nie.

Ongelukkig kan hierdie prosesse nie rypgedruk word nie. Gelukkig kan die aansoeke van die verskillende persele deurlopend ingedien word. Afhangende van die betrokke dorpsbeplanning kantoor, kan die proses binne ses maande afgehandel word. Saam met die vordering, verfyn ons gedurig ons strategie, en word ons span al hoe beter met die koördinering van die bostaande prosesse.

Dankie aan al ons Netwerk Vennote vir hulle betrokkenheid, commitment en geduld met die projek. Sonder ons netwerk-vennote is Zero Carbon Charge slegs ‘n idee op papier. Jou nalatenskap sal voortleef in ‘n beter volhoubare toekoms.

NAVRAE:

KONTAK
Joubert Roux
[email protected]

This site uses cookies to offer you a better browsing experience. By browsing this website, you agree to our use of cookies.