Suid-Afrikaanse boere het oor die afgelope paar jaar gewoond geraak daaraan om energieproduksie deel te maak van hul landbou-aktiwiteite. Gesels met enige boer met grond waarop wind- en sonplase opgerig is en hoor hoe drasties die impak van só projek op ’n boerdery se wins is.
Die omskakeling van die vervoersektor van binnebrandenjins na elektriese voertuie bied nou aan boere die geleentheid om direk betrokke te raak by die energiewaardeketting van die vervoersektor. Die effek van hierdie revolusie gaan ’n drastiese impak hê op die platteland. Geld wat voorheen bestee is aan brandstof wat van elders moes kom, gaan nou deels in die plaaslike ekonomie bly. ’n Mens hoef slegs na jou eie brandstofrekening te kyk om te besef wat die omvang van hierdie omwenteling inhou en hoe drasties die bydrae tot die welvaart van die platteland gaan wees.
Zero Carbon Charge ontwikkel ’n netwerk van snellaaistasies op al die nasionale en groter streekspaaie. Om voorsiening te maak vir betroubare en voldoende krag, beoog die maatskappy ’n hernubare kragopwekkingseenheid (son, wind en waar moontlik hidroëlektrisiteit) op elke perseel.
Bestaande padstalle wat aan kliënte ’n gerieflike plek bied om die sowat 30 minute deur te bring terwyl hul voertuig laai, is ideale netwerkvennote. Waar nodig ontwikkel Zero Carbon Charge self ’n padstal wat ook ’n bykomende ekonomiese bydrae tot die onmiddellike omgewing sal lewer.
Die eiendomme wat by uitstek geskik is vir só ’n ontwikkeling is teen besige paaie (N- of R-roetes) met ’n bestaande, veilige afdraai. Daar moet geen ooglopende omgewingsfaktore soos riviere, unieke plantegroei of onbegaanbare terrein wees nie.
Zero Carbon Charge ondersoek die perseel en behartig al die nodige omgewingsaansoeke en impakstudies. In geen stadium van die ontwikkeling van die projek het die grondeienaar enige finansiële verpligtinge nie en hy het dus geen blootstelling aan finansiële risiko nie.
As die grondgebruikaansoeke goedgekeur word en die ontwikkeling voortgaan, deel die grondeienaar in die bruto verkope van die krag. Die grondeienaar het ook die reg om surplus krag gratis aan te wend.
Die eerste fase van die projek sluit 120 laaistasies in, wat dus verseker dat EV-bestuurders elke 150 km toegang sal hê tot ’n snellaaistasiebestemming. Aanvanklik sal die ontwikkeling van persele slegs een hektaar (een megawatt-kapasiteit) insluit met die vooruitsig om dit uit te brei namate aanvraag toeneem.
Bouwerk aan die eerste laaistasies sal vroeg in 2023 begin met die doel om die volledige netwerk teen einde 2024 gereed te hê.
“Die motorvervaardigers voorspel dat die meer bekostigbare elektriese voertuie die Suid-Afrikaanse mark in 2024 gaan bereik. Ons missie is om dan reeds ons netwerk gereed te hê, ’n netwerk wat dien as katalisator vir die omskakeling na ’n koolstofvrye vervoersektor,” sê mnr. Joubert Roux.
Grondeienaars wat in die projek belang stel, kan die skakel op die webwerf https://charge.co.za/opportunity/ volg en die vorm aanlyn invul.
NAVRAE: info@ zerocc.co.za