The Rose Café op die N14 by Kakamas op pad na die Augrabies Watervalle en Namakwaland se blommeprag. 

THE ROSE CAFE, KAKAMAS


Kakamas op die N14

FOON: 083 411 6857

Trip Advisor


Stadskoffie in die Platteland

Wat het Radiografie, Kakamas en Elektriese voertuie in gemeen? Die antwoord is Coreen Loubser. Sy is ‘n radiografis wat etlike jare gelede in Kakamas kom vestig het en binnekort ‘n EV herlaaistasie op haar perseel gaan oprig. Die perseel is nie sommer ‘n ou perseel nie – dis The Rose Café op die N14 op pad na die Augrabies Watervalle. Sedert 2009 al bedryf Coreen hier ‘n koffiewinkel. Maar darem nie alleen nie. Sy het ‘n span wat haar help “Hulle moet almal alles kan doen” lag Coreen “as ons take in die koffie winkel klaar is dan help ons in die gastehuis.” Die Belvedere gastehuis is Coreen se ander baba, dié bedryf sy al sedert 2001.

The Rose Café bied meer as slegs koffie “My Zimbabwiese sjef maak toasted broodjies, steaks, pizzas, vis-en tjips, en hamburgers” sê Coreen “Ons bedien ook ontbyt vir ons gaste in die koffiewinkel”.

Besoekers kry ‘n sjokolade-lepel saam met hulle cappuccino’s “Ek het nog altyd gesê ek wil stads-kwaliteit koffie op die platteland bedien” sê Coreen met trots “dit en Ouma Rooi se koeksisters is ons spesialiteit”. Coreen glo mens moet op jou voete kan dink in dié bedryf en altyd met iets nuuts vorendag kan kom.

Coreen het aanvanklik 15 kamers in die gastehuis gehad, maar sedert Covid het sy twee kamers uitverhuur as ‘n haarsalon, en een as ‘n skoonheidsalon. Gaste is meesal toeriste vanuit Kaapstad of Johannesburg op pad na die Augrabiesvalle Nasionale Park, of Namakwaland se blommeprag. Sy kry ook gereeld besoek van druiwe uitvoerders.

In die koffiewinkel bied Coreen plaaslike konfyte, en elke dag bak hulle vars brood. Daar hang ook van Portchie se skilderye wat te koop aangebied word.

Laaistasie met sonpanele

“Ek is baie opgewonde oor die battery charger projek wat ons saam met Joubert van Zero Carbon Charge gaan begin,” sê Coreen “Ek het reeds sonpanele op my dakke, so dus net ‘n stap verder”. Coreen het haar kragrekening drasties verminder sedert sy die panele opgerig het. Die potensiaal van die Noord-Kaap se sonnige weer is aan haar bekend met die dat daar heelwat sonplase in die omgewing is.

Coreen is effens uitgeboul deur die vraag oor watter EV sy sal verkies as die herlaaistasie eers in plek is “Seker maar ‘n Tesla …” lag sy “maar my middelste seun (van drie) kort ‘n motor as hy universiteit toe gaan, ons sal moet kyk wat bekostigbaar is”.

Is daar ‘n herlaaistasie in Van Rhynsdorp? Want dis presies halfweg tussen The Rose Café en Stellenbosch Universiteit. Hou hierdie rubriek dop!